Gaan na inhoud

ISO 8601

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Huidige datum en tyd uitgedruk volgens ISO 8601 [verfris]
Datum in UTC2026-07-03
Tyd in UTC01:34:56Z
T013456Z
Datum en tyd in UTC2026-07-03T01:34:56Z
20260703T013456Z
Datum en tyd met die verrekening2026-07-02T13:34:56−12:00 UTC−12:00 [vervris]

2026-07-03T01:34:56+00:00 UTC+00:00 [vervris]

2026-07-03T13:34:56+12:00 UTC+12:00 [vervris]
Week2026-W27
Week met weekdag2026-W27-5
Ordinale datum2026184
Verduideliking van ISO 8601 - al drie die uitbreidings wat getoon word, is geldig.

ISO 8601 is 'n internasionale standaard vir die uitruil van datum- en tydverwante data. Die standaard is getiteld "Data-elemente en uitruilformate - Inligtinguitruiling - Voorstelling van datums en tye" en is deur die Internasionale Standaardeorganisasie (ISO) uitgereik.[1] Dit is gebaseer op die datum volgens die Gregoriaanse kalender en die 24-uur-voorstelling van tyd. Wanneer getalle aan dae van die week toegeken is, is 'n waarde van "1" aan Maandae en "7" aan Sondae toegeken.

Die doel van die standaard is om die risiko van verkeerde interpretasie te vermy waar numeriese verteenwoordiging van die datums en tye oor nasionale grense uitgeruil word, en verwarring en ander gevolglike foute of verliese te vermy. Die standaard organiseer die data sodat die grootste termyn (jaar) eerste in die datastring verskyn en vorder tot in die kleinste tydperk (sekonde). Dit maak ook voorsiening vir 'n gestandaardiseerde metode van tydgebaseerde kommunikasie-inligting oor tydsones deur die gebruik van Gekoördineerde Universele Tyd (UTC).[2]

As datums en tye nie tydsones insluit nie, vereenvoudig die skryf van datums en tye op hierdie manier die sortering van datum- en tydafhanklike data.

Beskryving van die standaard

[wysig | wysig bron]

Die standaard laat toe dat die datum en/of die tyd op 'n verskeidenheid maniere vertoon word. Die standaard laat toe dat strepies en dubbelpunte as 'n opsionele ekstra bygevoeg word om die lees van die data deur mense te vergemaklik. Dus word die voorstelling van die datum as "2026-04-22" en "20260422" as identies behandel. Die hooftipes data wat voorgestel kan word, word hieronder getoon.[3]

  • Jaar-Maand-Dag formaat: Die standaard neem aan dat die datum die datum is wat deur die Gregoriaanse kalender gegee word. Dit maak geen voorsiening vir die Islamitiese, Joodse, Chinese of ander kalenders nie. Die komponente van die datum word in dalende volgorde van betekenis geskryf. Die volgende is almal geldige voorstellings van die huidige datum in "jaar-maand-datum" formaat (met mensvriendelike skeiers):
  • 2026
  • 2026-07
  • 2026-07-03
  • Jaar-Ordinaledatum formaat:Die standaard laat die gebruik van ordinale datum (reeks 1-366) toe, eerder as maand-dag-formaat. In sulke gevalle sal daar 'n onewe aantal syfers eerder as 'n ewe aantal syfers in die uitvoer wees. Die huidige datum in ordinale datumformaat is
  • 2026184
  • Jaar-weeksnommer-weeksdag formaat: ISO 8601 standaardiseer ook die nommering van weke en weeksdae. Onder die standaard begin weke op 'n Maandag (dagnommer 1) en eindig op 'n Sondag (dagsnommer 7). As 'n week 'n Nuwejaar omvat, word dit toegeken aan die jaar wat vier of meer dae van daardie week bevat. Byvoorbeeld, 1 Januarie 2026 het op 'n Donderdag geval, dus het drie dae van die week in 2025 geval en vier dae in 2026 geval. Dus begin die eerste week van 2026 op Maandag 29 Desember 2025 en die laaste week van 2025 (week 52) het op Sondag 28 Desember 2025 geeindig. Wanneer die nommers wat op die jaar volg die weeknommer eerder as die maandnommer is, is die letter "W" as 'n skeidingsteken gebruik. As die dag van die week ingesluit is, volg dit die weeknommer. Die huidige weeknommer en dagnommer is:
  • 2026-W27
  • 2026-W27-5
  • Tyd sonder tydsone: Die standaad maak gebruik van die 24-uur horlosie. Die tyd kan uitgedruk word in ure, ure en minute of ure, minute en sekondes. Indien daar 'n risiko is dat die sender en ontvanger in verskillende tydsones mag wees, is die verstekwaarde om UTC te gebruik. DIt is aangedui om 'n "Z" by die numeriese weergawe van die tyd te voeg. Tensy daar geen ruimte vir verwarring is nie, word die tyd voorafgegaan deur die letter "T". Let wel dat dit is nie verplig om 'n "Z" of 'n "T" te gebruik nie. Die huidige UTC tyd word hieronder getoon.:
  • T01Z
  • T01:34
  • 01:34:56Z
  • Tyd met algemene tydsones: Wanneer boodskappe oor verskillende tydsones gestuur word, is dit dikwels wenslik om tyd met 'n spesifieke tydsone in lyn te bring. Een van die maniere om dit te doen, is om die verrekening van UTC by die tyd te voeg. Die gewone manier om dit te doen, is om teks van die vorm "±uu:mm" agter die tyd in te voeg. Die string "+02:00" dui aan dat die aangeduide tyd twee uur voor UTC is (wat standaardtyd in Suid-Afrika is). Daar moet kennis geneem word dat plaaslike tyd nie altyd met 'n heelgetal ure vanaf UTC verreken word nie. Een so 'n land is Indië waar die standaardtyd 5:30 uur voor UTC is.
  • Tyd met een-letter tydsones:Soos met datumformate, kan ure, minute en sekondes opsioneel geskei word met dubbelpunte vir die voordeel van menslike lesers. Daarbenewens kan die sender 'n tydsone-kwalifiseerder byvoeg. Hierdie kwalifiseerder kan óf 'n eksplisiete verskuiwing van UTC wees, óf, indien die verskuiwing 'n heelgetal ure is, die tydsone-karakters wat die NAVO-konvensie volg. [4] Onder hierdie konvensie word elke tydsone 'n karakter toegeken. Die letter "Z" word toegeken aan Greenwich Mean Time (UTC), die letters "A" tot "M" (uitgesluit "J") word toegeken in volgorde van GMT+1 tot "GMT+12" en die letters "N" tot "Y" word toegeken in volgorde van GMT-1 tot GMT-12. Die letter "J" beteken "Plaaslike tyd". Wanneer die tyd oor die radio uitgelees word, is dieNAVO-spelalfabet gebruik, byvoorbeeld die Suid-Afrikaanse plaaslike tyd (GMT+2) is bekend as as "BRAVO"-tyd.


Eksterne skakels

[wysig | wysig bron]

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. "ISO 8601 - Date and time format" (in Engels). Internasionale Standaardeorganisasie (ISO). Besoek op 14 Junie 2026.
  2. ISO, FAQ: Numeric representation of Dates and Time
  3. Kuhn, Markus (16 Junie 2020). "A summary of the international standard date and time notation" (in Engels). Department of Computer Science and Technology, Universiteit van Cambridge. Besoek op 14 Junie 2026.
  4. "Military Time Zones" (in Engels). Veteran.com Team. 2026. Besoek op 14 Junie 2026.